| INLIGTING
•
[GESKIEDENIS] •
[TERROIR]
NUUSBRIEWE
•
[02/07]
•
[01/07]
•
[04/06]
•
[03/06]
•
[02/06]
•
[01/06]
•
[04/05] •
[03/05] •
[02/05]
•
[01/05]
CEDERBERG
GESKIEDENIS
Die
eerste wyndruiwe in Suid-Afrika is in 1655 in opdrag van Jan van
Riebeeck aangeplant en die eerste wyn is in 1659 gemaak.
Die
sap van druiwe het drie verspreidingspunte gehad: eerstens is dessertwyne
gemaak, verdere sap is vir huiswyn in die onmiddellike omgewing
gebruik, maar sap is ook vir die maak van brandewyn benut. In hierdie
periode in ons wyngeskiedenis is die maak van brandewyn ten sterkste
bevorder met permitte wat vrylik uitgereik is om brandewyn te distilleer.
So het die boer van Matjiesrivier, tien kilometer duskant die huidige
Cederberg Kelder, 'n lisensie gekry om brandewyn te maak, en dit
vir een enkele druifstok wat hy op die werf gehad het. Hierdie praktyk
het floreer tot ongeveer 1920. Hierna het die Departement van Doeane
en Aksyns en die KWV beheer oor die uitreik van permitte verkry.
Oom
Pollie Nieuwoudt van Dwarsrivier, die plaas waar Cederberg-wyne
vandaan kom, het die eerste wyn, vir eie gebruik, van tafeldruiwe
gemaak. Volgens die plaaslike ko-op was oom Pollie se Barlinka-druiwe
"te laat" vir hul gebruik en dit terwyl dit die natuurlike
tyd was wat Cederberg se druiwe ryp geraak het. In 1964 het ene
Attie Rabie van die Sagtevrugteraad vir oom Pollie aan dié
druifsoort bekend gestel. Die druiwe het goed gegroei en op sy seuns
se aandrang, het hulle 'n kelder gebou. In 1973 is die kelder as
Cederberg Cellars Company geregistreer en word Cabernet Sauvignon
en Pinotage aangeplant. Die plaaslike mense het baie onder mekaar
hieroor gepraat, want eintlik, het hulle gesê, moet wit kultivars
aangeplant word, "want dit is nie eintlik 'n rooiwyn area nie".
Maar hulle moes gou hul woorde sluk, want met die Cabernet se eerste
inskrywing by die Olifantsrivier Jongwynskou in 1978, wen Cederberg
die Distillers Trofee en in dieselfde jaar wen hulle ook die Beste
Cabernet Trofee by die SA Jongwynskou. Die hoof boerderyaktiwiteite
op hierdie stadium was sagtevrugte en vee, en die kelder is meer
as 'n stokperdjie bedryf.
Wynmaker,
David Nieuwoudt, kleinseun van oom Pollie, het in 1997 op die plaas
begin wynmaak. Alhoewel hier na slegs drie geslagte verwys word,
is die plaas al vir vyf geslagte, sedert 1893, in die Nieuwoudt-familie
se besit. Vandag is die plaas 5 500 ha groot en is slegs 52 ha met
wyndruiwe beplant. Die oudste stokke op die plaas wat nog tans "in
gebruik" is, is 'n blok Chenin Blanc wat in 1978 aangeplant
is.
Daar
word tans Chardonnay, Sauvignon Blanc, Chenin Blanc, Bukettraube,
Pinotage, Merlot, Shiraz, Ruby Cabernet en Cabernet Sauvignon verbou.
Petit Verdot, Mourvédre en Viognier sal binnekort eksperimenteel
aangeplant word. 40% van die aanplantings bestaan uit witkultivars
en 60% is rooi. In 2004 het die kelder 157 000 bottels (±13
000 kiste) gebottelleer.
Cederberg
het oor die afgelope 7 jaar bekendheid verwerf vir heerlike vars,
vrugtige Sauvignon Blanc en Chenin Blanc wyne. In 2004 was Cederberg
weereens op almal se lippe met die 2002 Cederberg Shiraz wat die
trofee vir die Beste Shiraz asook vir Beste Rooiwyn in Suid-Afrika,
tydens die Fairbairn Capital Trophy Wine Show, voor die neuse van
menigte groot name weggeraap het.
•
TERUG NA BO
CEDERBERG
TERROIR
Terroir
bestaan uit vier komponente: topografie, klimaat (hetsy meso-, makro-
en mikro), die geologie en die grond.
Die
Weskus val onder die laagste reënvalgebiede in Suid-Afrika.
Cederberg se reënval is heelwat hoër en wissel tussen
450 en 800 mm per jaar as gevolg van die hoogte bo seevlak. By Cederberg
Wyne bestaan daar 'n unieke klimaat - ons praat van 'n koel-kontinentale
klimaat - nie maritiem of kus nie. Daar kan ook na die klimaat as
mediterreens verwys word. Die gemiddelde dagtemperatuur wissel tussen
12°C en 18°C in die wintermaande en tussen 22°C en 32°C
gedurende die warmste somermaande.
Die
plaas is geleë in die skadu van een van die Wes-Kaap se hoogste
bergpieke, Sneeuberg, wat 2 026 m bo seespieël uittroon. Cederberg
Wyne roem hulle daarop dat hulle die hoogste geleë wingerde
in Suid-Afrika het. Die plaas se aanplantings vind tussen 950 tot
1 100 m bo seespieël plaas. Die grondtipes is goed gedreineerd
op verweerde skalie/leiklip teen die hoogtes en die hoë hange
van die berge met 'n hoër klei persentasie wat baie geskik
is vir rooi kultivars. Geel-bruin grond, van graniet-oorsprong,
met 'n hoë suurinhoud moet voor aanplanting gemanipuleer word.
Ligte gestruktureerde grond met sandsteen, wat baie geskik is vir
die aanplant van wit kultivars, is volop. Daar is ook duplex-grond
met growwe sand op klei. Die grondsoorte behoort tot die Bokkeveld-
en Witteberg Groep.
Slegs
klein hoeveelhede druiwe word elke dag gepluk, nooit meer as 5 ton
nie. Soggens word daar reeds om 05:30 gepluk terwyl dit koel is.
Die plukkery staak teen 09:00 voor dit warm raak. Die eerste druiwe
word as 'n reël vanaf 15 Februarie gepluk en die oestyd kan
tot 20 April duur. In die droë 2005 is die eerste druiwe reeds
op 1 Februarie geoes.
As ons praat van terroir, is ons geneig om die natuurlike plantegroei
te ignoreer. Sou ons na die ooreenkomste by die natuurlike planttipes
en grondsoorte van verskillend areas kyk, sal ons dalk baie beter
verstaan wat om te plant. Die Wes-Kaap het 6 Biome en 18 veldtipes.
Die Cederberg bestaan uit 2 biome, naamlik Fynbos en Sukkulente
Karoo. Daar is drie veldtipes te vind in die Karoo, naamlik Renosterveld-,
Fynbos- en Vetplant Karoo.
Die Cederberg is in een van agt kernbewaringsgebiede in die Wes-Kaap.
Die Kaapse blommeryk is die kleinste van die ses in die wêreld,
maar die rykste met die hoogste konsentraat blomme per vierkante
meter: 1 300 spesies per 10 000 km. 18 625 vaskulêre plantsoorte
kom in SA voor waarvan 9 489 in die Wes-Kaap voorkom. Die Wes-Kaap
beslaan maar 0,5% van Afrika se totale landoppervlakte, maar dit
besit 20% van die vasteland se fauna-koninkryk. 75% van die skaars
en bedreigde spesies in Suid-Afrika kom uit die Wes-Kaap. Die Wes-Kaap
het 153 diersoorte, 305 voëlsoorte, 39 amfibiese spesies en
52 reptielsoorte.
•
TERUG NA BO
CEDERBERG
Wyne 02/’07
Gedurende die laaste week van oestyd
het David vir Angela Lloyd, wat vir Wines of South Africa (WOSA) ’n SA-oesverslag saamgestel het, die volgende
gestuur: “Die fokus van die plaas is uit die aard op Sauvignon Blanc
en Chenin Blanc asook laat-rypwordende rooi kultivars soos Cabernet Sauvignon
en Shiraz. Die Sauvignon word gemaak in ’n vars appelliefie, vyeblaar-styl.
Die mineraalagtigheid is te danke aan die leiklipgrond (skalie) waarin hierdie
druiwestokke groei. Die 2007 se Chenin Blanc-oes is beslis van die beste wat
nog ooit uit hierdie berge gekom het. Die styl neig na pomeloagtige sitrus
met heelwat winterspanspek. Wat so in Cederberg se guns tel, is die langer
rypwordperiode as gevolg van die hoogte bo seespieël (ja, tussen 950 en
1 100 meter!). Dit veroorsaak dat ons later pluk met ryp tannienstrukture.
Ek vermoed ’n goeie Cabernet-oesjaar, maar dan is daar die Shiraz wat
ook bogemiddelde kwaliteite toon. Dit is soos ek die Shiraz-wingerde leer ken
het. Ek werk met ’n multidimensionele druif, wat baie herinner aan die
Noordelike Rynse styl eerder as aan die ewige Nuwe Wêreld-spogvertonings
wat ons so mislei.”
Oestyd: Heelwat mense besef nie
dat elke kultivar apart geoes word en glad nie dieselfde tyd by die kelder
aankom nie. Ek gaan probeer om baie kortliks
te verduidelik wanneer die verskillende kultivars (ook genoem variëteite)
die afgelope jaar hier by Cederberg geoes is. Sekere variëteite word oor ’n
langer tyd geoes na gelang van die klone, waar dit op die plaas groei, die
grondtipe en ook die styl wat die wynmaker van die druif verwag as dit eers
in die bottel is, m.a.w. teen watter graad balling (die suikervlak van die
korrel en die tros) dit gepluk word. ’n Hittegolf, of ’n onverwagte
reën- of haelbui kan ’n hele oes se leeftyd en kwaliteit in ’n
ommesientjie radikaal beïnvloed. Die eerste boere wat elke jaar die wingerd
betree is die Robertson-ouens – reeds in die eerste week van Januarie – gewoonlik
om Chardonnay-druiwe vir Cap Classique te oes. As hierdie manne en vroue “land
toe gaan”, weet die res van die bedryf: die 25-uur werksdae het aangebreek,
en twee en ’n halwe maande van swoeg en sweet lê voor.
Op 31 Januarie vanjaar het Cederberg
ook die Chardonnay eerste begin pluk, teen laer suikervlakke vir ons Cap
Classique. Sewe dae later, op 6 Februarie,
het die eerste Sauvignon Blanc gearriveer. Eers drie weke later, op 27 Februarie
het die sensitiewe siel, maar o so gelief, Bukettraube onder die snoeiskêre
deurgeloop. ’n Week voor die Bukettraube het die eerste rooi druiwe,
naamlik Pinotage, hulle opwagting gemaak. Hierdie druiwe het oor twee weke
aangekom. Eers teen 1 Maart het die wintervrugagtige Chenin sy verskyning gemaak.
Oor die volgende agtien dae is die Merlot (8 Maart), Shiraz (20 Maart) en Cabernet
(26 Maart) geoes. Die laaste Shiraz-druiwe is teen 4 April gepluk en die laaste
Cabernet op 10 April – ’n dag na Paasnaweek. En daar het jy dit,
die hele oestyd in 298 woorde!
Ander plaasnuus
Nuwe wingerde: Gedurende Oktober
het David en die span 5,5 ha Sauvignon en Viognier aangeplant. Daar is heelwat
mense wat wil hê David moet Pinot
Noir aanplant; maar helaas, dis nog nie moontlik nie. Die dag as ons die werking
van ’n bobbejaantrop se groepsbrein verstaan, druk ons die eerste Pinot
Noir-stokkie in die grond!
Vloed- en stormskade: Tussen Sondag,
3 Junie en Saterdag, 9 Junie het net meer as 100 mm sagte, deurdringende
reën op ons neergedaal. Ons het nie
soseer vloedskade gelei soos die res die Swartland- en Weskusstreke nie, maar
ons hooftoegangsroete is kwaai geraak. Ons was ook vir twee dae heeltemal afgesny
van alles en almal. Die telefoonlyne was dood na die reën: Telkom se sonkraglaaiers
kon nie laai nie omdat die son vir ses dae glad nie geskyn het nie. Soos julle
weet, is hier ook nie selfoonopvangs nie (een van die redes hoekom ons juis
hier woon!) en dus kon ons nie die vloedskade raporteer nie.
Bottelering: Soos oestyd is die
periode waartydens die wynmaker die versnitte “opmaak” (dis
hoe ons daarna verwys) ’n sensitiewe en soms gespanne tyd. Dit is dan
wanneer belangrike besluite oor die samestelling van elke wyn en die style
gemaak word – enige plaas se reputasie lê opgesluit in dié tydperk.
Maande se harde werk word nou in ’n bottel wyn vasgevang, en dit kan
verkope in enige rigting stuur. ’n Mens kan dus gemaklik sê dat
die sukses van die plaas geheel en al van David se smaaksintuig afhang.
Die wêreldwye web: Cederberg
Wyne het nou finaal sy plekkie gekry, daar in die onsigbare heelal. Gaan
loer gerus om David te sien verslag doen oor
die oes:
http://www.winefilms.co.za/winefarms/Harvest/Episode26.html
En
dan het die uwe ook iets te sê gehad:
http://www.winefilms.co.za/winefarms/BioDiversity/Bio1.html
Teken gerus die volgende datums aan:
25 Jun–7 Jul Bottelering:
Alle 2007 witwyne, die 2006 rooies en die Cap Classique 2007
28 Jun 2007 Terroir Wyntoekennings word aangekondig
25 Jul Caroline’s Red Wine Review: 17:00–21:00 by die Cape Sun
15
Aug Caroline’s White Wine Review: 17:00–21:00
by die Cape Sun
16–22 Aug David besoek Namibië,
Middelburg en Mpumalanga
22
Aug Die Kaapse Wynmakersgilde se Nedbank Auction Showcase: 18:00–21:30
in Kaapstad
22 Aug Veritas inskrywings sluit
30 Aug Die Kaapse Wynmakersgilde se Nedbank Auction Showcase: 18:00–21:30
in Johannesburg
Pieter du Toit
BEMARKING EN MEDIA: CEDERBERG WYNE KONTAK
PIETER BY
TEL: +27 27 482 2827
FAKS: +27 27 482 1188
pieter@cederbergwine.com
• TERUG
NA BO
CEDERBERG
Wyne 01/’07
Baie maal by lughawens,
terwyl ek wag op ’n volgende vlug, is daar ’n
vreemde beklemming om my hart: hier is waar dit gebeur, dink ek dan: die emosionele
hart van die lewe. Hier vind daar ’n weersiens plaas van familie of ou
vriende wat ons vir jare nie gesien het nie, of ons kom sê totsiens,
dalk vir die laaste maal. Hier klim mense vir die eerste keer op ’n vliegtuig,
nadat hulle vir 65 jaar gespaar het vir daardie enkele vlug na ’n droombestemming.
Dit is dan ook hier waar plaaseienaars, wynbemarkers en wynmakers hulle idees
en gedagtes moet formuleer voor hul in moltreine, trems en taxi’s klim
op weg om proeërs en potensiële kliente te gaan toespreek oor die ‘moontlike’ groot
kontrak of ooreenkoms. Dalk vertrek hulle om die bou van ’n nuwe kelder
te gaan bespreek, dalk vir ’n nuwe bemarkingsprojek of mediastrategie,
of vir daardie “iets” wat die verskil gaan maak aan hulle plekkie
in die wonderlike wêreld van wyn. Elke dag word die bedryf egter gekonfronteer
met ’n groeiende probleem: ons het te veel wyn. Hier by Cederberg weet
ook ons wat dit beteken, en al is van ons wit wyne uitverkoop, sal ons nooit
ophou om alle weë te ondersoek en te bewerk om ons wyne verkoop te kry
nie. In elke oproep en e-pos wag daar dalk die antwoord wat die “hoogste
kelder bo seespieël” se produk nóg ’n entjie verder
kan neem. En so is dit op elke wynplaas regoor die wêreld. Alhoewel ons
witwynverkope ons nooit teleurstel nie, werk ons nog hard aan die rooiwyne
en is dit nog nie tyd vir ses maande rus en ses maande werk nie. O nee!
Skouer aan die wiel
Terwyl ek heelwat op die
pad was, het David, ons wynmaker, begin voorberei vir bottelering. Elke versnit
en
keuse wat hy maak terwyl hy tenk na tenk en
vat na vat proe, sal bepaal wat jy, die verbruiker en kliënt, drink en
waardeer. Intussen is vroulief Cisca, en Michelle, die vriendelike toerismepersoon,
besig om die toeriste gelukkig te hou, die rekeninge te betaal en die daaglikse
lone van 38 voltydse en vyf deeltydse manne en vroue te hanteer. Hierdie is
die mense wat die plaas, die oord en die wingerde se polsslag voed. David se
vader, “oom Ernst” hou stil-stil ’n wakende oog oor ons almal
en sy vrou, Marlene, maak seker dat die proviand in die plaaswinkel nooit te
min is nie: want ons moet leef en eet..
Hoogtepunte die afgelope ses maande: Januarie 2007 tot Junie 2007
Oestyd: Besoekers van
so ver as Frankryk, Duitsland, Singapoer, Litaue, Nederland, Swede, die Verenigde
Koninkryk
en die VSA, maar dan ook plaaslik vanaf die
rosestad, Bloemfontein, Gauteng, die Wes-Kaap, Magaliesburg en Mpumalanga,
het kom kuier en kom saamoes vir ’n dag of vier.
Die Senior Scout
Adventure: Om en by 500 seuns van regoor die wêreld
het ons plaas as basiskamp gebruik vir ’n 11-dae-lange ekskursie om die
Scouts se honderdjarige bestaansjaar te vier (www.cederbergadventure.co.za).
Bewaring: Ons
eie Cederberg Bewarea (www.cederberg.co.za )
vergader gereeld om bewaringsprobleme en uitdagings in diepte te bespreek.
Hou ook dop, die
Greater Cederberg Biodiversity Corridor-projek (www.cederbergcorridor.org.za )
is besig om een van die grootste bewaringsprojekte te word waaraan hierdie
area se eienaars nog ooit deelgeneem het. En dan is daar die Cape Leopard Trust,
'n brawe Cederberg-projek soos aangepak deur Quinton Martins en sy span (www.capeleopard.org.za).
Hulle jaarlikse fondsinsameling by La Med in Kampsbaai het een van daardie
móét-geleenthede geraak vir elke bewaringsbewuste en persone
wat omgee vir die natuur – neem kennis!
Proeë: Die plaas se heel eerste proe word elke jaar in Januarie in Pretoria
aangebied, by Johnny’s Liquors. ’n Paar dae later staan David en
sy span kniediep in die sap. David woon ook voortdurend proeë by wat aangebied
word deur sy kollegas van die Kaapse Wynmakersgilde (www.capewinemakersguild.com).
Gedurende Maart kon die publiek proe hoe vergelyk Cederberg se Five Generations
Chenin Blanc 2004 met die land se ander top nege Chenins – by Wine Magazine
se SA Top Tien Chenin Blanc-proe. Hierdie geleentheid is aangebied deur Mike
Dobrovic, wat besonder baie van die Five Generations Chenin gehou het. Een
van die grootste voorregte was om vir ons eie dorp se mense ’n proe aan
te bied – 45 Clanwilliamers het dit bygewoon. En dan was die daar die
proeë in die Magaliesberg, die een agter die Charlize-gordyn in Benoni,
asook in Pretoria, Johannesburg, George, Knysna, Durban, by The Institute for
Culinary Art in Stellenbosch vir ’n groep toekomstige sjefs, en laastens,
in Londen. Om 10:00 die oggend van 19 Mei het ek die portaal van die bekende
Landmark Hotel by Marylebone-stasie binnegestap. Hier het ek sewe van ons wyne
gaan aanbied by die Decanter Wine Experience; sewe SA plase was genooi. Daardie
selfde oggend het die organiseerders van die Decanter World Wine Awards 2007
na ons tafeltjie gekom en daarop aangedring dat ek vir David skakel: sy Five
Generations Cabernet Sauvignon 2004 was een van 77 internasionale wyne wat ’n
Decanter-toekenning ingepalm het. Gekies uit letterlik honderde wyne van regoor
die wêreld. Hierdie 77 wyne wag nou om te hoor wie is die algehele wenner,
wat op 4 September in die Victoria en Alfred-museum in Londen aangewys sal
word. Wie weet ...
Pieter du Toit
BEMARKING EN MEDIA: CEDERBERG WYNE
KONTAK
PIETER BY
TEL: +27 27 482 2827
FAKS: +27 27 482 1188
pieter@cederbergwine.com
• TERUG
NA BO
CEDERBERG
Wyne 04/’06
Kersfees 2006 het gekom en gegaan. Geseënd is hulle wat gedurende dié tyd “geklink” het met ’n glas Cederberg. Hier op die plaas wil ons graag op elke huidige en potensiële Cederbergwyn-gebruiker drink: ons wens jou en jou familie en al ons kliënte ’n voorspoedige 2007 toe! Ons bedoel dit, daarom het ons tot nou toe gewag om dié e-pos te stuur. Die afgelope jaar had sy hoogte- en laagtepunte. Hier’s ’n paar van hulle:
Totsiens:
Twee staatmakers in die bedryf is nie meer met ons nie: Tony Mossop, wynmeester, skrywer en filosoof, asook Debbie Margolis van Wine. Ons dink aan hul families in dié tyd, asook aan kollega Wanda Vlok wat haar man verloor het. Ons het van verspreider verander – nie ’n maklike besluit nie. Ons groet ons eerste verspreider, Siris Vintners. Dis menslik om geheg te raak aan individue: vir al die harde werk bedank ons julle, veral die manne en vroue wat die wyn gesmous het.
Hoogtepunte.
Op Cederberg (en ons almal weet dis die perfekte terroir) is daar ’n klein Nieuwoudtjie oppad. Die nuweling sal sy of haar opwagting in die winter maak. En hier is nog ’n paar hoogtepunte:
01. Die baie besoeke van kopers, kliënte, agente en proeërs aan Cederberg. Julle kom haal ons uit die kantoor en dis altyd lekker om die plaas deur julle oë te sien. Die feit dat julle al die pad tot hier gery het, hou ons nederig.
02. Die aansluit van David, ons wynmaker, by die Kaapse Wynmakersgilde en veral toe sy Teen die Hoog Shiraz 2004 vir die Gilde se veiling gekies is.
03. Die plesier om as een van Veritas se top vyf plase by die jaarlikse dinee aangekondig te word.
04. Die Biodiversiteitsprojek wat WOSA geïnisieer het en waarvan ons nou lid is.
05. Ons tweede besoek aan Soweto. Dankie, Kaapse Wynakademie!
06. Die Cap Classique wat rustig lê en wag om vrygestel te word. Dalk volgende jaar hierdie tyd (dis nou as David nie alles “op”-proe voor dan nie!).
’n Kopseer.
Ons witwyn is uitverkoop! Wat nou gemaak?
Ons top vyf kliënte.
Sê ’n mens nou wie hierdie ouens is, of nie? Maar ons is so bleddie trots op hulle, dus:
Ons top winkel: Makro (Gauteng). Nommer twee: Vineyard Connection (Wes-Kaap). Nommer een Lodge: Bushman’s Kloof Wilderness Reserve and Retreat hier op ons voorstoep. Nommer twee: Singita Private Game Reserve (Mpumalanga). Die Clanwilliam Hotel en Drankwinkel neem die vyfde plek in. Ek het vantevore genoem dat ons bors met trots swel omdat ons noord én suid én plaaslik ondersteun word: trots, trotser, baie trots.
Dit mag dalk klink of ons, persentasiegewys, kleiner instellings vergeet. Nee, dis glad nie die geval nie. Ons, en ek glo ook al die ander wynplase, is mal oor elke ou wat ons wyne verkoop: groot en klein. Dit was net nodig om die grotes te noem. Baie geluk! Ons salueer julle!
Pieter du Toit
BEMARKING EN MEDIA: CEDERBERG WYNE
KONTAK PIETER BY
TEL: +27 27 482 2827
FAKS: +27 27 482 1188
pieter@cederbergwine.com
• TERUG NA BO
CEDERBERG
Wyne 03/’06
Ja-nee, dis een van ‘daai’ jare: die wyn is alweer uitverkoop en die tyd vlieg, vinniger as wat ’n mens kan sê: “Five Generations Chenin Blanc 2004 Veritas dubbelgoud-wenner”. In hierdie nuusbrief besing ek ons plaas en die wyne se prestasie van die afgelope paar maande. Ek sal in die Desember-uitgawe die vorige beloofde stories vertel. Hier dan nou (in kort) vyf hoogtepunte wat ons beleef het.
Kaapse Wynmakersgilde:
Om en by hierdie tyd laas jaar het ons gehoor dat David, ons wynmaker, genooi is om as die 37ste lid by die Gilde aan te sluit. Toe moes ons juis die etikette vir die splinternuwe en skaars “Teen die Hoog Shiraz 2004” – ’n vyftien-maand-Fransehout-verouderde wyn – in Stellenbbosch gaan afhaal En daar kies die Gilde hierdie wyn vir die jaarlikse Gilde-veiling, waar hy ’n gemiddelde prys van R218 per bottel behaal. Ons het toe nooit die etikette gebruik nie, want dié wyn dra nou die Gilde-etiket in plaas van sy eie plaas-baadjie!
Veritas.
Nog altyd gewonder hoe jy gaan weet of jy vir die Veritas-toekenningsaand moet ‘regmaak’? Wel, terwyl David in Texas werk, lui sy telefoon een nag om 03:00: “Kry jou swart pak reg.” En natuurlik, toe hy wil weet hoekom, is daar geen antwoord nie. Daar sit David en Cisca toe op 6 Oktober, van kop tot toon “opgedress” en niemand spreek die Cederberg-woord van die verhoog af nie. Eers reg teen die einde word die vyf produsente genoem wat die beste gevaar het, en so gaan die spreekwoordelike ligte toe aan: Kanonkop, Rust en Vrede, Nuy, Winecorp en Cederberg! En hier is die redes hoekom: dubbelgoud vir die Five Generations Chenin Blanc 2004 en die Cederberg Shiraz 2005 (Nee, dit is nog nie vrygestel nie, wag tot Januarie.), goud vir die Shiraz 2004, en silwer vir die Chenin Blanc 2006 en die Bukettraube 2006. Dan is daar ook die brons vir die Cabernet Sauvignon 2004 (dis nou die Cab wat 4½* gekry het in Platter 2006 en silwer by die IW&SCA ’06).
Wine Magazine.
In hierdie maand se uitgawe van Wine (The White issue, met geen verwysing na leuentjies nie) is Cederberg een van sewe plase wat 4½* kry vir sy Sauvignon Blanc 2006. Altesaam 120 Sauv’s is geproe en 37 daarvan is duurder as Cederberg s'n. Nie sleg vir R60 per bottel nie! Maar dit was in die Augustus-uitgawe dat die assistent-redakteur gaan kyk het na die laaste vyf jaar se toekennings en puntelyste, en die vraag vra: Is Stellenbosch nog steeds dié gehaltewynstreek? En wie sou kon raai? Daar, in die vierde plek, gedeel met die Fleur du Cap-reeks, staan Cederberg se naam! Christian Eedes (seker die enigste joernalis wat nog bloos) skryf verder dat nege plase uit die top 24 nie van Stellenbosch is nie. Hmmmm …
Biodiversiteitsprojek.
Gedurende die laaste week van Julie het ons met veel haas ons aansoek betyds by Su Winter, die koördineerder van die Biodiversiteits- en Wyninisiatief, ingehandig. Cederberg is nou saam met 73 ander plase en koöpratiewe kelders deel van dié inisiatief. Besoek gerus die volgende webwerwe en laat jou kop in skaamte sak as jy deel is van ’n wynplaas en nog nie betrokke is nie: www.bwi.co.za of www.varietyisinournature.com. Dis ’n geringe bydrae wat enige plaas kan maak tot die groot bekommernis wat daar heers oor moeder aarde, maar ook tot die SA wynbedryf en WOSA se inisiatief.
Soweto Wynfees – September ’06.
En om te dink daar’s nog plase wat wonder hoekom hulle in Soweto moet gaan wyn uitstal! Cederberg glo ons is deel van die groter wynspan en wil só deelneem aan hierdie opwindende proses. Ons kla almal baie gou oor die tyd wat ’n uitstalling in beslag neem. Die vraag is: Wil jy uitstal waar jy aan ’n honger skare jou produk kan verduidelik en verkoop, of waar ’n klomp sogenaamde fundi’s jou eintlik beledig met hul “kennis”? Wees gewaarsku: daar is net soveel uitstalruimte by “Soweto” en ek hoor via die slae van ’n hoëveldse donderstorm dat die organiseerders die oud-uitstallers eerste sal ken in hul beplanning vir die 2007-fees (7 tot 8 Sep’07).
Pieter du Toit
BEMARKING EN MEDIA: CEDERBERG WYNE
KONTAK PIETER BY
TEL: +27 27 482 2827
FAKS: +27 27 482 1188
pieter@cederbergwine.com
• TERUG NA BO
CEDERBERG
Wyne 02/’06
Spog (of doodgewoon ’brag’)
Aan die einde van 2005 lui die telefoon: David word genooi om die 37ste lid te word van die Kaapse Wynmakersgilde sedert die gilde se ontstaan in 1982. Dis 'n rare eer wat ons wynmaker hier te beurt geval het. Ons is dônners-trots op die baas. Gaan kyk www.capewinemakersguild.com onder “Members” wie die ander 36 lede is.
Verkope en aankope
Makro is ’n winkelgroep wat dalk deur baie van ons gesien word as die plek waar die massa insak met ’n kaart om winskopies te bekom. My stoutste verwagtinge is egter oortref toe ek twee jaar gelede by die Makro-groep in Gauteng, bestaande uit ses winkels in en om Pretoria en Johannesburg, instap. Die afgelope paar maande lys hierdie groep al ses wyne in die Cederberg-reeks. Carolyn Barton, die hoof-aankoper, bedryf ’n blink-gepolitoerde aksie wat enige eksklusiewe wynwinkel stof in die oë sal skop. Elke persoon wat in die Noorde van ons wyne wil koop, kan met vertroue by Makro instap en met elke winkel se wynafdeling-bestuurder praat. Verwag diens en ’n hoogs gemotiveerde span.
Die ses beste ondersteuners van ons wyne, naas Makro Gauteng (en nou kan julle sien dat ons plaaslik ondersteun word), is twee aankopers uit die Clanwilliam-omgewing, twee uit Mmpumalanga, een uit Gauteng en een uit die Boland. Nommer sewe is, interressant genoeg, ’n wyngilde in die Noorde. Die land drink dus gebalanseerd en verspreid aan Cederberg se wyne, en ons kla nie!
Wie is ons?
Met ander woorde, wie werk hier op die plaas, op die lande, by die kampterrein, in die tuine, in die kantoor en in die kelder? Ons is so ongeveer 90 mense wat in die 24 woonhuise op die plaas woon. Elf van ons is al afgetree en 19 van ons is is nog op skool – hier op die plaas, op Wuppertal of Clanwilliam. Ons is omtrent ewe veel mans as vroue. Al woon ons hier, werk van ons ook op ’n buurplaas of twee.
In die volgende nuusbriewe stel ons jou voor aan die mense van Dwarsrivier en Cederberg Wyne.
Vrystellings en gebeure
Besoek gerus een van die mees onmisbare webwerwe in die wynbedryf: www.wine.co.za Jy hoef nie deel te wees van die wynbedryf om hier te gaan inloer en te sien wat binnelands (ja, noord en suid) en buitelands gebeur nie. Om ’n daaglikse nuusbrief van hulle te ontvang oor wynproeë, gourmet-aande en wynuitstallings, stuur ’n e-pos aan info@wine.co.za.
En dis weer sulke tyd – op 1 Augustus is ons witwyne op die plaas en in ’n paar winkels beskikbaar. Al hierdie wyne was verlede jaar uitverkoop, maar David het belowe daar’s vanjaar genoeg. Die Five Generations Chenin Blanc 2004 het ’n silwer medalje losgeslaan by die jaarlikse Old Mutual Trophy Show, dus moenie sê ons het jou nie gewaarsku nie.
Dagboek
4 – 15 Julie Bottelering op die plaas
11 – 15 Julie Bergrivier Kano-marathon
17 Augustus VERITAS INKSRYWINGS
21 – 24 Augustus David en Pieter vertrek Noorde toe vir ’n paar dae van promosies
26 – 27 Die Michael Fridjohn Wine Experience
30 Aug - 1 Sep WineX: Kaap
1 – 3 Sep Soweto Wine Festival: Johannesburg University Vista Campus
Pieter du Toit
BEMARKING EN MEDIA: CEDERBERG WYNE
KONTAK PIETER BY
TEL: +27 27 482 2827
FAKS: +27 27 482 1188
pieter@cederbergwine.com
• TERUG NA BO
CEDERBERG
Wyne 01/’06
Geskiedenis
en nuus
Elke
jaar vra wynliefhebbers: “Hoe vergelyk vanjaar se oes met
met die voriges?” Om dit eenvoudig te stel: Die afgelope drie
jaar was droog en weerpatrone lyk heelwat anders. Cederberg se druiwe
word baie later as ander plase geoes, maar skommelende temperature
en uitsonderlike stygings het veroorsaak dat ons vanjaar vir die
eerste keer in April alle kultivars binnenshuis in sapvorm gaan
hê – nie gewoon vir Cederberg nie. Die plaas se gemiddelde
reënval is 780 mm per jaar; sedert 2004 val daar ’n skrale
350 mm per jaar. Inderdaad affekteer dit die wingerd. Alhoewel dit
soms goed is vir die wingerdplant om te “sukkel”, is
daar perke. As jy bevoorreg is om gereeld ’n glas Cederberg
in die hand te kan hê, sal jy weet dat die kwaliteit van ons
wyn nie deur droogtes en kragonderbrekings beïnvloed word nie.
Ook vanjaar het die wingerde ons oorvloedig beloon. Die beloning
vloei verder: ons kelder dra nie swaar aan vorige jare se sap en
voorraad nie. By ’n WOSA-seminaar in 2005 het Dan Yega van
Bibendum Wine (’n voorste wynhandelaar in die VK) aan die
toehoorders gevra: Are you moving the boxes? Hier is my antwoord:
Ons kry ons sonbruin velkleur van druiwe pluk, wyn verkoop en bemark,
en ywerige besoekers vaarwel sê met ’n bottel wyn in
die hand. As jy gedink het dit kom van Clifton of Struisbaai se
strande, dink weer: Move the boxes!
Vrystellings
Iets
is só reg aan die Bukettraube van hierdie kelder. Teen middel
Maart vanjaar was hierdie wyn uitverkoop op die plaas – ongewoon
vir ’n wyn met 23 gram suiker per liter in Suid-Afrika, maar
teen Augustus 2006 sal dit weer verskyn. Gaan soek gerus by AL ses
die Makro-winkels in die Noorde; hulle hou die hele Cederberg-reeks
aan – voorwaar ’n kompliment. Die volgende twee wyne
is so pas op die plaas vrygestel: die gehoute Five Generations Chenin
Blanc 2004, sowel as die Five Generations Cabernet Sauvignon 2003.
Ek verstout my om te sê, maar hier was die engele self aan’t
werke ... Binnekort sal die Cederberg Cabernet Sauvignon 2004 ook
beskikbaar wees, maar lees eers hieronder wat met sy ouer boetie
gebeur het. Die 2003 het onder die top vyf Suid-Afrikaanse Cabernets
geëindig in Decanter, die voorste Britse wyntydskrif, se wynproe.
Toekennings
Cederberg
Cabernet Sauvignon 2003 4 * in Decanter, VK –
Maart
2006, “highly recommended”
Cederberg
Shiraz 2004 4 * in Wine magazine SA – Maart 2006
Veritas
goud 2005
Dagboek
04
Apr Cape Wine 2006: Biodiversiteitskonferensie
05 –
6 Apr Cape Wine 2006, uitstalling: 10:00 tot 18:00
12 –
28 Apr Pieter bemark in Switserland, Swede (Vinordic) en Holland
21 -
23 Apr Concours Mondial de Bruxelles in Lissabon
27 Apr
Cederbergfees begin in Clanwilliam
4 Mei
Siris (ons verspreiders) se ope dag vir kliënte in Kaapstad
9 –
12 Mei Waterfront Wine Show
14 -
22 Mei David bemark in Londen o.a. London International Wine Trade
Fair
29 –
30 Mei Siris se ope dae vir kliënte in Johannesburg & Pretoria
5 Jun
Old Mutual (néé Fairbairn) se wenners word bekend
gemaak
6 –
7 Jun Siris se ope dae vir kliënte in Johannesburg en Pretoria
7 –
13 Jun Pieter bemark in die Tuinroete
Pieter du Toit
BEMARKING EN MEDIA: CEDERBERG WYNE
KONTAK PIETER BY
TEL: +27 27 482 2827
FAKS: +27 27 482 1188
pieter@cederbergwine.com
• TERUG NA BO
CEDERBERG
Wyne 04/’05
Geskiedenis
en nuus
As jy in die wynbedryf jou oë knip in Juliemaand en jy maak hulle weer oop, dan is dit
Desember. Skoue, kompetisies en proeë vermenigvuldig by die week en so raak die belangrike
opvolgwerk gou agter. 'n Wynboer is, soos enige ander boer, 24 uur per dag besig – en as ek
ooit weer enige gemurmer tot die teendeel hoor, stel ek sommer self die sakie met 'n ou
Pinotage-stomp reg! Hieronder, onder Toekennings, probeer ons verduidelik hoeveel skoue, proeë
en kompetisies vanjaar in ons “inhokkies” verskyn het. Dit sluit nie die alledaagse proeë vir
die media en by restaurante, wynklubs en -winkels in nie. Let op dat Wines of South Africa se
tweejaarlikse “Cape Wine 2006” in April slegs gerig is op die nasionale en internasionale
wynbedryf. Dit is nie oop is vir die publiek nie. Registreer asseblief betyds en laat hulle
weet as julle sukkel met registrasie:www.wosa.co.za
Vrystellings
Cederberg Sauvignon Blanc 2004 – 1 Desember 2005 (op die plaas)
Cederberg Shiraz 2004 – 2 Januarie (op die plaas)
Five Generations Chenin Blanc 2004 – 1 Februarie (op die plaas)
En as jou kelder nog nie met ons 2005-witwyne gevul is nie, dan is dit dalk net te laat ...
Toekennings
Besoekers aan die plaas vra altyd waar en hoekom stal ons ons wyn uit. Gedurende 2005 het 24
nasionale en nege internasionale kompetisies se inskrywings in ons in-mandjie beland, ook
aansoekvorms vir 35 nasionale en agt internasionale skoue en feeste. Sjoe! Hoe besluit jy
watter een is dié een wat vir jou gaan werk? Ons beveel aan dat jy, as wyngebruiker, op datum
bly deur daagliks te gaan inloer by die immergewilde www.wine.co.za Hier is ‘n paar van ons
aktiwiteite tot Mei 2006:
Dagboek
16 Des, David en Cisca trou
16 Jan tot 19, Jan Pieter en David in Pretoria
Februarie, Oestyd begin: Cederberg
4 tot 6 April, Cape Wine 2006: Kaapstad
24 tot 27 April, Vinordic: Stockholm, Swede
27 April tot 1 Mei, Cederbergfees: Clanwilliam
6 tot 9 Mei, Toerisme Indaba: Durban
8 tot 13 Mei, Manuka-week: Somerset-Wes
16 tot 18 Mei, London International Wine Trade Fair (LIWTF)
Vooruitsigte
en suksesvolle projekte
Ons het nog altyd ons wyne vir donasies beskikbaar gestel, alhoewel ons die afgelope jaar met
rede afgeskaal het. Dit is alombekend dat ons in 'n uitgebreide natuurgebied geleë is. In 1994
het die plaaslike boere, CapeNature en ander betrokkenes die Cederberg-bewarea gestig, 'n
sterk bewaringsorganisasie wat 'n ál groter rol in die Cederberg speel. Dié organisasie was sy
tyd vooruit. Tien jaar later kondig WOSA hul biodiversiteitsprogram aan. Hier op die plaas was
ons baie opgewonde en het ons soos ou bekendes die hele proses begin dophou. Vanjaar, op 5
Desember, het ons die eerste tree gegee om 'n lid te word van hierdie groot WOSA-projek. Hou
gerus hierdie brief dop. Vanaf 2006 sal Cederberg-wyne al hoe meer plaaslik ondersteun, nl.
die plaaslike skooltjie, Dwarsrivier Primêr, die Cederberg-bewarea en die Cederbergfees op
Clanwilliam. Ons almal hier op die
plaas wens jou en jou geliefdes 'n geseënde feesseisoen toe, en onthou: spesiale geleenthede
word met 'n Cederberg-wyn gevier!
Pieter du Toit
BEMARKING EN MEDIA: CEDERBERG WYNE
KONTAK PIETER BY
TEL: +27 27 482 2827
FAKS: +27 27 482 1188
pieter@cederbergwine.com
• TERUG NA BO
CEDERBERG
Wyne 03/’05
Geskiedenis
en nuus
Daar
is 'n stille afwagting wat swaar hang op die winterbries wat aan
die einde van Mei, onaangekondig, van die berghange begin stoot
het. Dié bries sny deur murg en been, hier waar fynbos en
wingerd vrylik meng. Dit dra 'n bekende reuk, asof 'n jong Eva in
vyeblaar-gewaad so pas aspersies gaan pluk het. Aan haar voete die
geur van jong gekneuse gras en die soet walm van fynbosblaar. Die
veld hou asem op, niemand sê 'n woord nie, behalwe die oorgretige
kopers, drinkers, waardeerders en kenners van Sauvignon Blanc. Maar
ontspan, vanaf 1 Augustus sal sy “op straat” wees. Wees
gewaarsku, die Sauvignon Blanc 2005-voorraad is beperk en ons gaan
strenger te werk gaan met die verkope. Alhoewel beduidende reën
al geval het, wag ons geduldig op nog. Iets interressant wat min
mense weet: in die vallei waar ons woon, het daar nog nooit iemand
vir water geboor nie. Met ander woorde, deur die hele droë
2004/05-seisoen was ons slegs van die natuurlike fonteine afhanklik.
Vrystellings
Cederberg
Sauvignon Blanc 2005 – 18 Julie (op die plaas)
Cederberg
Chenin Blanc 2005 – 1 September 2005 (op die plaas)
Cederberg
Bukettraube 2005 – 1 September 2005 (op die plaas)
Toekennings
Dit was
die Cederberg Shiraz 2002 wat in 2004 alle verwagtinge oortref het.
Hier op die plaas bly ons dankbaar vir elke toekenning en enige
wynmaker sal vir jou sê dat elke wyn soos 'n kind is, nie
een is beter of slegter as die volgende nie. Terwyl die publiek
angstig geproe het aan die 2002 Shiraz, het al ons wyne goed gevaar.
In die afgelope Wine Magazine kry die Cederberg Cabernet 2003 vier
sterre en die Shiraz 2003 vier en 'n half, een van Suid-Afrika se
top vyf.
Dagboek
Maandag,
27 Junie Bottellering begin
Vrydag, 1 Julie Michelle & Pieter met verlof tot 17 Julie
Woensdag, 20 Julie Morné & Pieter wys Cederberg wyn by
Caroline’s Red Wine Review
Woensdag, 20 Julie David, EKOV-voorsitter, woon die Sertifikaatoorhandiging
van die eerste groep SKOP 3-wynstudente te Zorgvliet by. Mnr Kobus
Dowry, Minister van Landbou, Wes-Kaap, is die eregas.
Vooruitsigte
en suksesvolle projekte
Morné
Landman, die wynmaker wat help oes het, verlaat ons aan die einde
van Julie. Morné gaan in Spanje pars, waarna hy terugkeer
om self te begin wynmaak in Botrivier. Cederberg beplan die eerste
amptelike bekendstelling van ons wyne: eers net in die Kaap. Pieter
het suksesvol met die agente-span van Siris Vintners 'n draai gemaak
in die Noorde en bly by sy standpunt: Gauteng is fantasties. David
was ook in Pretoria en Nelspruit. Daar is by ons geen twyfel nie
– die res van die land is baie meer wynbewus as 'n paar jaar
gelede. Maar in die algemeen moet daar nog berge versit word betreffende
korrekte wynopleiding. Ons glo dat 'n liggaam wat omsien na kelners,
en 'n werks- of etiese kode, skort. Baie kelners sien hul werk as
iets tydeliks. Maar daar is die professionele groep kelners, goue
kosbaarhede! We salute you! Kyk uit vir ons volgende nuusbrief in
'n effe ander formaat. En as jy vir Eva sonder die vyeblaar raakloop,
laat weet ...
Pieter du Toit
BEMARKING EN MEDIA: CEDERBERG WYNE
KONTAK PIETER BY
TEL: +27 27 482 2827
FAKS: +27 27 482 1188
pieter@cederbergwine.com
•
TERUG NA BO
CEDERBERG
Wyne 02/’05
Geskiedenis
en nuus
Ander plase kry yslike toekennings, ja, en ons ook. Maar word ander
plase se wynetikette vereer met 'n eenparige beoordelaarskeuse?
Sien Toekennings hier onder.
Op Sondag, 6 Februarie het 'n hittegolf oor die Wes-Kaap gespoel,
maar danksy Cederberg se hoogte bo seespieël het ons die hoë
uiterstes vrygespring, alhoewel dit warmer as vorige jare was. In
die kelder het Jan-Taylor, Thys, Mark, Morné en David sedert
30 Januarie deurnag gewerk. Ten spyte van die droogte, het dit goed
gegaan. Daar is beslis 'n kleiner volume druiwe, maar laat David
liewer self verder gesels: “Amper is ek met my broek op my
knieë gevang. Die oes by Cederberg moes 'n hele twee weke vroeër
begin as gevolg van die warm, droë weer. Vroeë kultivars
soos Sauvignon en Chenin Blanc lyk baie belowend – ons kon
feitlik alles pars voor die warm temperature in middel-Februarie.
Laatrypwordende Shiraz en Cabernet Sauvignon is eers teen einde
Maart gepars en die kwaliteit is bogemiddeld. Hierdie kleiner oes
(20% minder rooi en 15% minder wit) het egter klein korreltjies
met baie mooi gekonsentreerde geure en donker kleur op rooi kultivars
tot gevolg gehad. Ons gaan beslis bietjie minder wyn moet botteleer
om dieselfde kwaliteit as vorige jare te handhaaf, maar sorg dat
jy hierdie jaar vroegtydig 'n kissie Sauvignon Blanc bekom!”
Vrystellings
Die nuwe Five Generations Chenin Blanc 2003 en Cederberg Cabernet
Sauvignon 2003 is beide vrygestel. Let daarop dat daar nie 'n Five
Generations Cabernet Sauvignon 2002 gaan wees nie.
Toekennings
Cederberg is geseën met die beste grafiese ontwerpspan in die
land, naamlik Haumann Small Design Studio. Sedert die eerste nuusbrief,
het hulle die 2005 Fox Rivers Paper Wine Label of the World-toekenning
gewen vir die Cederberg Cab 2002-etiket. Gaan loer gerus by www.foxriverpaper.com
– ons etiket is uit 97 inskrywings van regoor die wêreld
eenparig as die wenner aangewys, en was ook die wenontwerp in nog
twee kategorieë. Weer eens baie geluk, Eddie, Linda en span.
Na baie glase Cederberg, móés julle eenvoudig by hierdie
stukkie wonderwerk uitkom!
Dagboek
Hier is 'n voorsmakie van proeë en uitstallings wat ons die
volgende twee maande gaan bywoon. Bel of stuur vir ons 'n e-pos
vir meer besonderhede as jy hierdie geleenthede wil bywoon.
11 - 15 Apr Besoeke aan wynwinkels en restaurante, Gauteng: Pieter
16 & 23 Apr Spesiale promosie by Don Vino, Tygervallei: Pieter
en Susan van Siris
(Siris is ons binnelandse verspreider)
21 Apr “Hoogste kelder bo seespieël”-proe by Don
Vino, Tygervallei: Pieter en Morné
26 Apr - 1 Mei Jaarlikse Cederbergfees, Clanwilliam. Moet dit nie
misloop nie!
29 Apr - 1 Mei Kos en Wyn-naweek, Bushmanskloof: David
3 – 6 Mei Cape Times Wine Festival, V&A Waterfront
4 Mei Siris-opedag, V&A Waterfront: David
10 Mei Siris-opedag, T-Systems Building, Midrand: Pieter
12 Mei Siris-opedag, Kingdom of Africa-kompleks, Nelspruit: Pieter
15 Mei London Wine and Spirits Fair: David en Morné
Vooruitsigte
Cederberg gaan vanjaar (danksy Melvyn Minnaar se pleidooi) sy wyne
amptelik loods. (Eers net klein, Melvyn.) Ons will ook graag meer
betrokke raak by die Cederberg Bewarea en ons eie skooltjie op die
plaas, Dwarsrivier Primêr. Dus ... “watch this space”
vir meer oor ons “groot dae”, en wanneer ons ons nuwe
wyne gaan aankondig!
Pieter du Toit
BEMARKING EN MEDIA: CEDERBERG WYNE
KONTAK PIETER BY
TEL: +27 27 482 2827
FAKS: +27 27 482 1188
pieter@cederbergwine.com
•
TERUG NA BO
CEDERBERG
wyne: 01/’05
'n
Nuusbrief van 'n wynplaas
Nuusbriewe is soms nogal kontroversieel. Sover ons, hier op die
plaas, weet, het niemand nog ooit vanaf Cederberg Wyne of die vakansie-oord
Sanddrif, nuusbriewe gestuur nie. Verder weet ons dat nuusbriewe
aanvanklik met goeie bedoelings geskryf word, maar êrens langs
die pad droog die woorde op. Ook daag briewe ten duurste by jou
op: die papier is herwin, die lettertipe is ongekend op enige rekenaarprogram,
en die inhoud hou 'n mens vir dae besig. Maar kom ons kyk hoe vorder
hierdie brief. Eenvoudig: net een bladsy en net drie opskrifte –
só bly jy, die liefhebbber van ons wyne en omgewing, geïnteresseerd.
En laat ons nou maar eerlik wees, ons wil wyn verkoop en ons wil
hê julle moet by ons kom bly, maar niks keer 'n lekker storie
daarmee saam nie. Laat dus weet as daar enigiets is wat jy wil weet
en ek sal gaan uitvind. En voorlopig sal hierdie brief elke einde
van elke tweede maand in die “inbox” vir jou wag.
Geskiedenis
en nuus
Hier kan jy elke keer iets oor die geskiedenis van die plaas verwag,
of oor wat ons die afgelope twee maande aangevang het. Soos die
reserwewyn-reeks dit baie duidelik stel: 5 Generations, dis hoe
lank Dwarsrivier reeds in die Nieuwoudts se besit is. Die laaste
drie geslagte maak reeds wyn. Tans produseer Cederberg Wyne agt
wyne. David is ook betrokke by twee ander reekse wat nie die Cederberg-
of 5 Generations-naam dra nie. Die storie lui dat David se oupa,
oom Pollie of oupa Pol, soos hy bekend gestaan het, uit pure moedeloosheid
sy eie wyn begin maak het. Oom Pollie moes gedurig hoor dat sy wyne
“laat” was by die koöp, en dit terwyl dit doodeenvoudig
die tyd was wat Dwarsrivier se druiwe ryp geraak het. Dit was juis
hierdie “laat”-rypword wat vandag sorg vir een van die
uniekhede van Cederberg Wyne. Dit is deel van die terroir wat so
enig in sy soort is. Die eerste druiwe is in 1965 geplant –
dit was tafeldruiwe. Die eerste wyndruiwe is in 1973 aangeplant,
en daaruit het die wen-Cabernet Sauvignon van 1977/8 voortgespruit.
Vrystellings,
toekennings, dagboek en vooruitsigte
Tans is al die wyne op die plaas en by ons nasionale en internasionale
agente beskikbaar. Ek lys hulle graag weer. Die Cederberg-reeks:
Sauvignon Blanc ’04, Chenin Blanc ’04, Bukettraube ’04,
Cederberger ’03, Cabernet Sauvignon ’02 en Shiraz ’03.
Die 5 Generations-reeks: Gehoute Chenin Blanc 2003 en Cabernet Sauvignon
2001. Wees gewaarsku, die Sauvignon Blanc is dalk uitverkoop teen
die tyd wat jy hier lees. Snaaks, dis ook die Sauvignon Blanc wat
ons hierdie week, 1 Februarie, begin oes het. So terloops: die vraag
wat tans heelwat gevra word, is: Gaan julle ooit weer Pinotage maak?
Die antwoord is NEE. Cederberg Pinotage het in 2000 en 2001 groot
hoogtes bereik, maar David het besluit om nie weer Pinotage te bottel
nie. Sy redes vir die beëindiging van die Pinotage-reeks is
nie André-van-Rensburg-van-aard nie; inderdaad, David hou
van 'n bottel Pinotage, en 30% van die druiwe in die Cederberger
2003 is Pinotage. Ons het 'n baie spesifieke terroir wat meer geskik
is vir laatrypwordende kultivars soos Cabernet en Shiraz. Soos altyd,
wag daar 'n besige jaar vir ons almal hier op die plaas. Ons dagboeke
is besig vir 2005, maar die belangrikste is die huidige oes, so
later meer daaroor …
Pieter
du Toit
BEMARKING EN MEDIA: CEDERBERG WYNE
KONTAK PIETER BY
TEL: +27 27 482 2827
FAKS: +27 27 482 1188
pieter@cederbergwine.com
•
TERUG NA BO
|